Vrydag 08 Januarie 2016

Is jy tog nie bang nie?


Die ou mensdom is darem maar ʼn snaakse spul.

Partykeer wonder ek oor die sogenaamde “supremiteit” van die spesie. Die waarheid is natuurlik dat alle mense is maar net die skepsel van die gewoonte (creatures of habit). Wie jy is, is die somtotaal van jou gewoontes. Jou gewoontes word gevorm uit jou waardesisteem en beginsels en dit bepaal die paradigma waarna jy na jou huidige en toekomstige situasie kyk en hoe jy leef. Want jou gewoontes word gevorm uit jou paradigmas.

Vóór ek nou te filosofies raak (maar in die hoop dat iemand dit dalk net raak lees en dit iets vir daardie persoon beteken), die punt wat ek wil maak is dat mense se gewoontes waaruit hulle leef, dikwels ook deur hul vrese gevorm word. Met ander woorde, hoe jy oor ʼn saak dink en voel, is gebore uit jou vrese, of dit nou werklik is of nie, of dit die waarheid is of nie en ook nie of dit jou weerhou van ʼn lewe van oorvloed nie. (Laasgenoemde is natuurlik ook ʼn paradigma, maar ander dag op ʼn ander plek meer hieroor.)

Wanneer dit kom by hipnose, is dit seker, naas die evangelie self, die een saak of vakgebied waaroor daar die meeste vals paradigmas bestaan. Idees, vrese en opinies op alles behalwe die waarheid gevorm is.

Daarom my stelling vroeër dat die mens homself meeste van die tyd nie juis gedra soos die superieure spesie nie.

Wanneer ek aan mense noem wat ek vir ʼn lewe doen en dat ek ook ʼn hipnoterapeut is wat van hipnose gebruik maak om mense te help om ʼn lewe van oorvloed in alles aspekte van hul menswees te leef, kry ek uiteenlopende reaksies.

Maar een van die reaksies wat omtrent deur die bank uitkom, is iets soos: “O dan moet ek versigtig wees.” En daarna: “Kan jy regtig mense hipnotiseer?”

Nou die eerste reaksie, gewoonlik met ʼn laggie saam of ligsinnig gesê, is maar eintlik om onkunde, vrees en verbasing weg te steek. Want ʼn hipnotiseur is mos so snaakse omie met ʼn pers baadjie aan en ʼn bokbaardjie wat mense soos hane laat kraai of ʼn tannie met sulke veelkleurige los lapperige klere wat sy grasieus rondswaai terwyl respektabele vroue onfatsoenlik op die verhoog rondkruip en spektakels van hulself maak. Of iets in dier voege.

Die daaropvolgende vraag, “Kan jy mense regtig hipnotiseer?”, verbaas my, asof dit iets ongewoon en snaaks is om “mense te hipnotiseer”. Wel vir die meeste mense is dit, maar nie vir die “ingeligtes” nie. En daarom wil ek juis mense se paradigma bietjie skuif deur net basiese inligting te deel sodat perspektiewe kan regskuif soos mense ingelig word deur die waarheid.
Wat my by die tweede deel van die mensdom se reaksies bring. Mense is nuuskierig, maar verkies om op die kantlyn te staan.

Weereens is hipnose en die evangelie oor dieselfde kam te skeer. As niks meer werk nie, dan begin mense gewoonlik in alle erns te bid, asof dit die laaste uitweg is – wat wys dat hulle nie dit glo nie, maar op die einde van hul moontlike oplossings is (ʼn blogonderwerp vir ʼn ander keer).

Dieselfde met hipnoterapie. Wanneer geen behandeling, of dit nou op mediese, psigologiese, emosionele, liggaamlike of selfs geestelike vlak is,  nie wil help nie en ál die moontlikhede ontgin is, sal mense uit nood ʼn hipnoterapeut gaan sien waar die persoon meestal geholpe sal raak.

In die volgende paar weke wil ek alle mites, miskonsepsies en vrese die nekslag toedien. En veral ook weerstand vanuit die godsdienstige beskouinge in perspektief stel.

Want is dit nie interessant hoe uitgesproke mense oor onderwerpe en studievelde is waarvan hulle niks weet nie? Mense sal hulself dikwels in die fynste besonderhede as “kenners” uitspreek oor iets wat hulle op hoorsê by Tant Annie gehoor het wat dit by haar niggie gehoor het wie se seun ʼn kelner is wat na professor so-en-so wat iets aan tafel verduidelik het en hy in die verbygaan gehoor het. En dan glo hulle hulself.

Nou bogenoemde voorbeeld is seker ʼn bietjie ekstreem. Maar om terug te kom na my punt heel bo, almal het paradigmas of geloofsisteme wat gegrond is op bepaalde kennis, maar nie noodwendig die waarheid nie.

So om dié  blog mee af te sluit wil ek enkele van dié miskonsepsies oor hipnose vir ʼn ses slaan.

In ʼn empiriese navorsingstudie waaraan twee groepe voorgraadse studente vrywilliglik aan deelgeneem het, het hulle vrae oor hipnose beantwoord. Een was ʼn waarnemingsgroep en die ander groep is daarna oor ʼn tydperk persoonlik aan hipnose blootgestel (ʼn paar van dié groep wou nie gehipnotiseer word nie). Daarna is dieselfde vraelyste weer voltooi en die resultate vergelyk.

Hier is die bevindinge oor vyf miskonsepsies wat by die meerderheid van die studente in beide die groepe vóór die blootstelling aan hipnose bestaan het, maar wat ná afloop van die ervaring verander het.

1. Hipnose is ʼn veranderde toestand van bewustheid

2. Die ervaring van hipnose het alles te make met die hipnotiseer se vermoëns

3. Gehipnotiseerde mense is nie bewus van wat om hul aangaan nie

4. In Hipnose sal mense die waarheid praat oor goed waaroor hulle normaalweg sal lieg en

5. Suggesties (of voorstelle onder hipnose) is so kragtig dit kan nie weerstaan word nie

Meeste mense sal erken dat hierdie van die miskonsepsies oor hipnose is wat by hul bestaan. En dat ons opinies hoofsaaklik gevorm is deur dit wat aan ons opgedis word uit Hollywood in flieks en TV-reekse of dalk ʼn humoristiese verhoogvertoning (sal in ʼn volgende blog hieroor skryf) wat die persoon bygewoon het.

So wat is dan die waarheid:

1. Hipnose is slegs ʼn ontspanne toestand waarin die onderbewuste (sub-conscious) na vore kom en die bewuste brein na agter skuif. Dit is dus nie ʼn ander vorm van bewustheid nie (met ander woorde jy is nie in ʼn toestand buite jou normale self nie), maar slegs só ontspanne dat die onder-bewuste direk begelei kan word.

2. Alle hipnose is self-hipnose. Daar bestaan nie iets soos iemand wat nie gehipnotiseer kan word nie. Of laat ek dit meer wetenskaplik stel, studies het bevind dat die grootste meerderheid  mense gehipnotiseer kan word. Die vermoë om in hipnose te gaan het alles te doen met die persoon se gewilligheid om te ontspan en die proses te aanvaar en weinig met die hipnotiseer (natuurlik help die kennis en ervaring wat die hipnotiseer het om die persoon maklik en professioneel in die proses te begelei).

3. Jy sal altyd bewus wees van alles wat om jou aangaan wanneer jy in hipnose is en elke woord hoor wat die hipnotiseer sê. Jy kan ook enige tyd gedurende ʼn sessie uit hipnose kom as jy so sou besluit. Die reaksie van omtrent al my eerste kliënte ná die tyd is dat hulle verbaas is dat hulle van alles bewus was en dan twyfel of hulle wel in hipnose was.

4. Jy sal nooit enige geheime weggee wanneer jy in hipnose is nie. Omdat jy in hipnose self besluit wat jy wil bekendmaak en wat nie, sal jy niks weggee of sê wat jy nie ook in ʼn bewustelike toestand sal doen nie.

5. Jou totale menswees word beheer vanuit jou onderbewuste (sub-conscious). Àl jou waardes, beginsels en geloofsisteem. Wanneer jy iets in jou lewe wil verander of beter wil doen wat die hipnoterapeut deur ʼn suggestie aan jou oordra, is dit omdat jy bewustelik en in jou onder-bewuste daartoe toestem. Byvoorbeeld, as jy wil ophou rook, en jy het reeds die wilsbesluit geneem, dan gee jy toestemming dat sekere suggesties jou in dié proses sal help).

Wanneer ons kennis oor ʼn saak met die waarheid oor die bepaalde vakgebied gevoed word, stel dit ons in staat om baie meer verantwoordelike besluite te neem op grond van dié kennis. Só besweer ons ook vrese wat gewoonlik op hoorsê en wanvoorstellings gegrond is.

En dit is die doel van dié blog, om jou te help om goeie ingeligte besluite te neem.
  • Vir enige navrae, lees gerus meer oor dié onderwerp óf my dienste op my webblad of kontak my gerus.